OOR ONS
Onthou julle nog die saamtrekke en volksdanse waar "niggies" en "neefs" op die wysies van "Jan Pierewiet", " Die Alibama" en "Saai die waatlemoen" dans? Met bo-rokke en onder-rokke, kappies, en handsakkies opgetooi. Neefs in hulle broeke en onderbaadjies so mooi borduur.
Op 'n piekniek smul aan biltong, melktert en karringmelk.
Toe "Nommer asseblief" en "Vyfster" sy eerste keer uitgesaai was op die kassie.
"Heidi" ons gunstelling kinderverhaal was en "Liewe Heksie" wat al op die maan was voor Armstrong.
"Blink Stefaans" en Trompie" was ons helde. En wie onthou vir "Jopie Adam"?
Die dae van troumars tot tiekiedraai op "Ek soek na my Dina".
Die sakkie-sakkie en sokkie-sokkie op "Ken jy Tant Mossie".
Die dae van Springbok radio, Oom "Ge" en "Kupido", "Die Royal Hotel" en "Sproeitjies".
Van windpompe tot "Kinders van die wind", ry met "bromponies" en neem kiekies van "Ekkies". Treinry op "Transkaroo", en "Die Kaap is weer Hollands" met "Jantjie" wat vir alles te blameer is.
Coke gekoop het vir 15c, "Bring vir die harlekyn nog wyn" en toe Tassenberg nog kurkproppe op gehad het. Wegkruipertjie gespeel sonder om as vermis aangemeld te word, en tok tokkie gespeel sonder om geskiet te word en almal was "Hansie Slim"..
Gemmerbier in die spens, malvalekkers en appelkosies in bruinsakke by die kafee, toe padkafee-kos uit warmbrakke en melkskommel bestaan het. Ons onthou die kerkklok van "Vader Jacob", "Siembamba" en "Jan Pierewiet"
Van "Ek sou kon doen met 'n miljoen" tot " Die rooi rok".
Van Toeka tot nou.
​